INKDINK

Januarie 2015
 Vergewe en vergete die wểreld … alle paaie loop na Pretoria


Alhoewel ek baie dink, het ek in die laaste tyd minder ge-ink. Ek was druk besig met ateljeeopnames en skryf aan my nuwe album. Op die persoonlike front was daar ook groot verskuiwings – twee huistrekke in vier maande. Die een meer dramaties en traumaties as die ander. (Ander dag se storie) Uiteindelik bevind ek myself weer terug in Pretoria. Vir my geld die spreekwoordelike “alle paaie loop na Rome” letterlik met so ‘n klein verandering … “al my paaie loop terug na Pretoria”. Dalk kan ek ‘n liedjie sing wat iets klink soos : … “ my voete loop die wệreld plat, maar ek gaan Pretoria toe”….

Gelukkig kon ek teen Kersfees 2014 uiteindelik tog alles onder beheer hệ en net diep asemhaal. Egter nie voordat ek eers die plaas vir die dorp verruil het nie en binne ‘n week ’n inbraak gehad het en beide my rekenaars kwyt is nie. Ek dink hier teen Januarie 2015 besluit my liggaam net doodeenvoudig – soos ‘n ou tjor wat se vonkproppe gaar is – tot hier toe en nie verder nie. Ek voel so goor ek dink die einde is vir my om die draai. Almal om my is in ‘n toestand en half onbeholpe. Lieze wat siek is, is nie ‘n alledaagse ding nie. Lieze wat siek is, is nie maklik nie. Lieze wat dink sy is besig om te groet, onmoontlik. Dit was asof ek almal vir oulaas behoorlik en hard wou laat sweet.

 Nadat ek almal ‘n lewe gely het, het my Rutkind my letterlik en figuurlik dokter toe gesleep. Ek beland vir ‘n goeie twee weke plat in die bed. Ek is baie jammer vir myself. Ek is siek, koorsig, lusteloos en moedeloos. Ek hoes myself in floutes in, roggel my keel rou in my slaap. My neus loop so erg dat ek dit sommer toestop met toiletpapier. Ek kry die bewerasies van die stoomoplossings waarmee ek myself moet stoom. As ek die stoom ‘n mis gee klink my bors soos ‘n ou transister-radio wat van die stasie af is. Ek mis my moeder en verlang na my kind. Ek wens my pappa kon my sy nuutse boeke kom wys wat hy ontdek het. Ek kry warm en ek kry koud. My haarverlengings koek soos “smocking’ teen my kopvel vas van al die gelệ en party ruk ek sommer met my handeuit van frustrasie. Ek huil oor my rekenaars en vreemde mense met kriminele vingers wat my briewe, joernale en gedigte kan lees. Ek kerm en kaiing oor ek soos ‘n walvis in my groot dubbelbed rondrol. Ek huil weer oor hoe duur dit is om dokter toe te gaan en oor hoe baie geld mens moet betaal om nie dood te gaan nie. Dan tel ek my kruiwa pille een vir een af en drink hulle net omdat hulle so baie geld kos. Ek huil omdat kunstenaars al hoe swaarder kry. Ek baklei met almal met my laaste ons krag. Julle wat my ken, weet dat ek diep gelowig is en werklik weet waar my krag vandaan kom, maar skielik is ek sommer daroor ook dom. Ek is nie lus om Paulus se briewe te lees nie en ek het nie krag vir Prediker nie. Ek staar na my versameling Bybels …. Vanaf 1933 vertaling tot by die NIV in groot druk. Ek besluit om maar net die Onse Vader op te sệ en Psalm 23 in my kop te resiteer en ‘delete’my dagstukkies soos hulle per epos inkom. Ek het nie lus vir enige iets wat my skuldig en net nog ellendiger laat voel nie. Ek het nie lus om te bely oor hoe aaklig ek met my geliefdes na aan my is nie, hoe ek worstel en wroeg met vergifnis teenoor die wat my te nagekom het nie. Ek besluit ek lệ sommer net en wees baie siek. Ek is opstandig en demonstreer dit met my geblaf, letterlik en figuurlik.

‘n Vriendin bring stapels ou tydskrifte. So hier teen die vyfde dag na die antibiotika - onder andere - sy werk begin doen, begin ek halfhartig rondblaai in tydskrifte vanaf 2008 tot die jongstes. So met die geblaaiery begin ek intens lees. Daar is ‘n groot versameling van tydskrifte. Skindertydskrifte en glanstydskrifte en estetiese baie mooi prentjie-tydskrifte met min leesstof. Daar is ‘n wye versameling tydskrifte. Sommiges maak my weer sieker voel en ander lig my gemoed. En skielik slaan dit my so reg tussen die twee oge: Alles waaroor gepraat en geskryf word, is oor die drie-dimensionele wệreld waarin ons onsself bevind. Alle fokus is op al die mensgemaakte mooi dinge van die wệreld, hoe mens nie sonder dit kan lewe nie en hoeveel beter dit mens sal laat voel. En dan is daar ‘n vreeslike geskinder en goedkoop gepraat oor die doen en late van “glinstermense”, wie doodgewoon vlees en bloed is soos ek en jy. En ek onthou ….. die volgende gedig:

Totius (J.D. du Toit) (1877 – 1953)

Die wêreld is ons woning nie.
Dit merk ek aan die son wat wyk,
en ‘k merk dit aan die reier wat
mistroostig na die son sit kyk
op een been, in die biesiesvlei.
En is die laaste strale weg,
dan rys ‘n koue op uit dié vlei.
‘n Koue gril deurhuiwer my;
en ‘k sien dit dan aan alle ding
wat in die skemer my omring,
die wêreld is ons woning nie.

Die wêreld is ons woning nie.
Dit sien ek as die bloedrooi maan,
van agter veldstof opgegaan,
nog net die kerk se dak bestryk
vanwaar ‘n uil, mistérie-stom
sit na die maan se skyf en kyk.
En nou dit stil word op die straat,
dink ek hoedat die middag laat
‘n lykstoet uitgekom het daar
waar nou die maan en uil ontmoet.
En ‘k merk dit dan aan alle ding
wat in die aandstond my omring,
die wêreld is ons woning nie.

Die wêreld is ons woning nie.
Dit voel ek as die wind ontwaak,
as die eikebome knars en kraak,
dit hoor ek in die fladdering
van voëltjies wat hul vlerke slaan
teen die verwarde boomtakke aan.
En as ek nader kom dan vind
ek by die maan se wisselstraal
‘n nes vol kleintjies deur die wind
omlaaggeslinger, dood, verplet.
Ek voel dit dan aan alle ding
wat in die nagstond my omring,
die wêreld is ons woning nie.



. En ek dink aan iets wat Oscar Wilde kwyt geraak het : “ It takes a great deal of courage to see the world in all it’s tainted glory and still to love it. “En dan …. onvermydelik ... dink ek aan die mees bekendste Bybelteksvers … “ want so lief het God die wệreld gehad, dat Hy Sy eniggebore seun gegee het, sodat almal wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie,maar die ewige lewe mag hệ” (JOH 3:16).

Ek lees my tydskrifte … en die gedagtes spoel deur my gemoed. Ek sien oor ‘n paar jare se tydskrifte dieselfde publieke persone se verhale, groei, nederlae en oorwinnings. En ons almal staan hier in dieselfde wệreld. Ek besef weer hoe swaar dit is om groot te word in die publieke oog. Ek onthou. Ek sien, van ver en van buite , (deur koorsige waas) hoe ons weerloos slagoffers word van hierdie wệreld … wat nie eintlik ons woning is nie. Hierdie wệreld waarin ons so maklik en vinnig verdwaal, val en verval. Ek sien hoe hard ons werk aan die goedkeuring van die ‘wệreld', hoe dapper ons eintlik is om dit te sien vir wat dit is en dit steeds te bewonder. Het ek gesệ: dapper? Of sou Oscar Wilde na ‘n veel dieper betekenis van “dapper” verwys het?

 En skielik word ek wakker een oggend met voἓlgesang voor my kamervenster vanuit my nuwe piepklein tuintjie en verdoof dit die krasse stadsgeluide. Ek loer deur my vensters en sien die reuse Jakarandas bo die ses voet mure troon en die blouste hemel daarbo. Ek verlang skielik vreeslik na ou kwaai Paulus se geskrifte in die Groot Boek, na die Psalmskrywers se mooiste lofliedere , die Prediker se wysheid en na die verhaal van die grootste liefdesoffer vir hierdie ou verlore wệreld . Skielik is ek oorbewus van my dankbaarheid dat ek wel nog bietjie tyd geleen word om my hart te ondersoek en te doen wat ek moet doen. Alles wat ek is, is suiwer genade.



innerlike vrede

ek slaan my oἓ op na die berge
waar sal my hulp vandaan kom
die blou lug lyk hoog
lyk ver
die aarde gekors
en gekraak

in my are waar bloed nog vloei
my hart in my keel klop
hoor ek U stem
in U vrede se stilte
loop my beker oor
werp ek myself voor U voete
buig ek my hoof in
U heerlike teenwoordigheid
daar waar waters van rus is

binne U stilte
alomteenwoordig
raak die verstand groen weivelde
word vraag van onbegrip vaag
word verwyt
verwyder van die wond
en weet ek :
U liefde salf my hoof -
U goedheid en guns volg my
U is die vrede hier binne my


LSK Januarie 2015


Shalom … en baie inkdink-liefde
Lieze







JANUARIE 2014

Toe ek nog ‘n kind was in die 70’s, het die jaar 2000 vir my na een of ander alien konsep geklink. Dit het ‘n baie vreemde klank gehad en onbegryplik ver gevoel. Nou is dit reeds 2014 en klink niks meer vir my vreemd en ver nie. Ek het met die jare agtergekom dat tyd, hoe ouer mens word, vlerke groei en begin vlieg. En dat voor jy nog jou oog kan knip ‘n hele wêreld op sy kop kan beland. Ek het geleer dat verandering ‘n konstante is. Ek het geleer dat mens werklik net die oomblik waarin mens jouself bevind het. Gister is gedane sake en môre het sy eie oomblik. Ek het geleer dat 'om die oomblik vas te gryp' meer betekenis het as net ‘n oulike ding is om te sê.  Hoeveel van ons spandeer nie hopeloos te veel ‘tyd’ in ons gisters en môres nie en laat glip die oomblik deur ons vingers nie. En so sterf ons uiteindelik sonder dat ons ooit regtig gelewe het.

Dit laat my dink aan ‘n ou Joni Mitchell song  - The circle game – bekend gemaak deur o.a Tom Rush. As ek nou reg kan onthou dan lui die koorgedeelte as volg: “… and the circles they go round and round … and the painted ponies go up and down … we can’t return we can only look behind from where we came … and go round and round and round in the circle game … “  Alhoewel ek dink dit kan gevaarlik word om vasgevang te lewe in gister of - in dieselfde asem - net te lewe in ‘n droomwêreld van more, dink ek nie dis ‘n sleg idee om so nou en dan net terug te kyk en te onthou van waar ons kom, stil te gaan staan en seker te maak waarheen ons oppad is nie ... en dan seker te maak dat dit waarmee ons onsself besig hou in ons elke dag se bestaan ewigheidswaarde het. (En hierdie is nou ook weer ‘n heel nuwe debat … so vir nou los ek laasgenoemde gedagte vir eers in die lug)

So van toeka af tot nou, Van THULA af tot by MY HART IS JOU GEBED, het my wêreld ‘n paar keer in die rondte gegaan en op sy kop gaan staan. Daar was tye wat ek swewend in ‘n droomwêreld van more kon bestaan en daar was tye wat ek vasgevang was in al die gisters van onthou. Vir n hele paar jare het ek wipplank gery tussen die twee pole van onwerklikheid. Vandag is ek oneindig dankbaar dat ek tog kon afglip van daardie wipplank en veilig op my voete kon land. Genade, genade genade. Nie my eie krag nie, maar deur die krag van Jesus Christus.  Ek kon weer my nou - my oomblik van waarheid – omhels … die wonder van elke sonsondergang en sonsopkoms ervaar. Ek kon weer lewe sien, ervaar en glo en daarmee saam was daar weer hoop. Want wat is ‘n lewe tog sonder hoop? Hopeloos … wat ‘n vreeslike sombere bestaan is dit tog nie. Ek het weer my note en woorde gevind en skielik het ek weer my stem ontdek, en daarmee saam die stem van geloof hoop en liefde. 

2013 het my album – MY HART IS JOU GEBED – die lig gesien. Dit was vir my ‘n persoonlike deurbraak op meer as een vlak. Dit was vir my ‘n seën. Ek het deur die klanke weer kon terugkeer na dit waarvoor ek geskape was om te doen. Ek kon terugkeer tot diens aan my naaste, van wie ek myself te lank vervreem het. En nou in 2014 is ‘n uitvloeisel van hierdie werk ‘n splinternuwe album ‘n Album waaroor ek gebid het en ‘n brandende begeerte in my elke hartklop ervaar het. ‘n Album waarmee ek my dankbetuiging aan my Skepper kan betoon en met elkeen van julle kan kom deel.


Ek is kliphard aan die skryf en sif en het reeds begin met opnames. Die titel van my album is ook nog “under construction”, maar my hart jubel dat hierdie kans my gegun word en is ek so vreeslik dankbaar dat die beker van GENADE nie by my verby gegaan het nie. Dit kon met die knip van my oog so maklik wel gebeur het. Ek kon so maklik verstrik geraak het in my eie klein wêreldjie van wipplankbestaan. “Then sings my soul …. How great Thou art … “

Ek wens vir almal net die beste toe vir hierdie jaar. Ek bid dat almal se oë betyds en in tyd sal knip. Ek bid vir almal genade, vreugde, vrede en voorspoed toe en net die rykste seën. Ek bid dat ons almal ons note en woorde en klanke sal kan herontdek en sal jubel, al het die olyfoes gister misluk, het ons steeds die nou.


INKDINK-GROETE & SHALOM
LIEZE

Vrydag 2 Augustus 2013

Ek dink baie. Ek glo ek dink baie meer as wat ek hoef te dink. Soms ink ek wat ek dink, maar meeste van die tyd liewer nie. Soos ek in een van my songs op Aengel sing: "Dis wat ek dink wat my laat sink"

Wat ek regtig nooit gedink het nie, is dat my terugtrede tot die musiekbedryf so vreeslik sigbaar gaan wees nie. Ek het gedink ek gaan so paar CD's van onder my lessenaar verkoop, 'n konsertjie hier en daar doen en dalk 'n paar liedjies vir mense skryf of toonset. So iets.

Aijaijai , maar ek het my liederlik misgis. My eerste onderhoud was blitsvinnig met HUISGENOOT. Mens kan nie eintlik vir n tydskrif met 'n groter sirkulasiesyfer vra as dit nie. My eerste radio-onderhoud was met RSG - ek kon nie vir n groter luistertal (vir my musiek) gevra het nie.

Waarmee ek ook glad nie tred gehou het nie is die nuwe tegnologie en aard van tydskrifte en radiostasies nie.Genugtig! Skielik is daaar nie net 'n storie in 'n tydskrif nie, maar ook n YOUTUBE video daarmeee saam en is dit sigbaar oor die net. En wat is 'n storie nou sonder 'n kiekie of twee, gedruk of digitaal. En as die video oor jou gaan dan sal jy self seker die hele duur daarvan daarin sigbaar wees.

So nou ink ek vir julle wat ek glad nie oor gedink het nie. Ek bedoel, regtig, ek sing mos net. Ek speel mos nie in movies nie. Mense is veronderstel om my te hoor en minder te sien. Helaas, in al my glorie verskyn ek nou in ink verdrink en digitaal vir julle almal om te aanskou na wie julle luister.

Vir die wat nie weet nie - ek is 'n halfeeu oud, het nog nooit iets laat uitsuig, botox gespuit, lippe laat pof, tucks en nips iewers ooit gehad nie. Ek het myself ook nie danig gedurende die laaste tien jaar mooi bekyk in die spieel nie. Ek is ook nie van die sportiewe, drawwerige tipe nie. Ek sit op my agterstewe die meeste van die tyd, voor my rekenaar, voor my klavier, in die ateljee of op 'n perd se rug.

Dit was moeilik vir my met die fotosessies vir my CD omslag. Gelukkig het ek 'n baie lieflike fotograaf ontdek met baie lieflike beligting en ken ek my beter 'angles' darem nog effe - alhoewel hulle ook al hoe meer beperkinge bygekry het. Dan het sy my voorgestel aan 'n wonderlike vriend, Mnr Photoshop. So uiteindelik het dit alles goed afgeloop. So goed as wat dit kon.

Vanoggend maak die uwe die nuwe Huisgenoot oop en val reg agteroor . Ek het vir 'n wyle net na lug gehap, maar uiteindelik my asem teruggekry. Presies net toe ek in trane wil uitbars, gebeur daar 'n snaakse ding met my: ek bars kliphard uit van die lag. Wat anders kan mens doen as jy  jouself so baie herinner aan jou sub A gediggie: otjie potjie ... en ek dink by myself ... vandag het ek 'n ding om te ink. Hierdie storie van wat ek NOOIT sou kon dink nie. Toe ek uiteindelik die HUISGENOOT haal, was ek 50jaar oud, lekker middeljarig en soos Breyten Breytenbach se BRIEF VAN HULLE VAKANSIE se -" uitgeswel van lyf." (Gelukkig "kou ek nog nie agter my baard nie".)

Nouja - laat ons onsself nie misgis met hoe die prentjie regtig lyk nie, maar laat mens tog nou nie vergeet wat dit is wat jy doen en wie jy is nie. Laat ons nooit vergeet waarvandaan ons kom nie en waarheen ons oppad is nie. Laat ons nooit toelaat dat 'n rol of n plooi of 'n dimpel te veel die vreugde van elke dag se warm strale laat kwyn nie. Laat ons na ons hande kyk en liewer die verhaal van toeka tot nou in elke lyn en aar sien en saam n nuwe lied sing. Laat ons met die bietjie ekstra tyd wat aan ons geleen is ons "swaarkry met lekkerkry klaarkry."(CJ Langenoven)

En dit is wat ek gedink het ek moet ink.

Inkdink -groete
Lieze












No comments:

Post a Comment