VERSE

vir Vic

dis winter
bleek en bar le die plot bedags
en loer na die yshemel
ver verhewe
bo die koue gekraakte aarde

koud is dit hier
in die holtes van my hart
vanwaar ek huil en stry
teen die onvermydelike
groet van n geliefde

dis winter
die seisoen
net voor lente

LSK Junie 2014
 


vry

wanneer is mens gereed
nooit is te lank en nou te gou
hoe sing ek koebaai
waar vind ek die nuwe note
die liriek vir nog 'n keer se seer

weer 'n keer eggo
die broosheid van die lewe
deur my reeds verwonde hart
waar rowe eelte geword het
en al die onthou afgeval het

as die laaste asem nog hortend
en hygend warm oor my
wange fluister
weet ek dat anderkant hierdie kant
water van rus is
dat swaartekrag van pyn verdwyn

LSK JUNIE 2014



 hooglied

Spreuke 4:23 - Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. (Ouer vertaling:Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe)

ek bring vir jou my nuwe note
neurie hulle vas teen jou lyf
en op my asem teen jou wang,
vars en skoon uit die tuin van klank,
sal jy die kruisementakkoorde voel

rooi rank roos-refrein om jou hart vir sy klop
en vir die aanslae wat van buite kom
vleg ek doringtakkies tussendeur
sag sug die soet note van jasmyn
maak plek vir liefde sonder pyn

ek sing deesdae
uit volle bors my lied vir jou
en wonder of jy steeds
die simfonie van liefde
in seisoene kan onthou

© LSK JANUARIE 2014




 2014

skemeroë loer lui en langsaam
na die vae voetpad ver verby
die swanesang van pers
en grou se blou

die dag wat graag in goud en geel kom lag
word gul en gretig ingewag
kaleidoskoop se droompatroon
loer leepoog
na die horison se neonboog

weg waai die verlede
en wuif verleë
gedane sake onder die brug
maak plek vir nuwe lig
vrede
‘n tuiste wat stig

© LSK Desember 2013





 gebed iii

hier waar ek
in my vleeslikheid vasgeketting staan
nie een voet voor die ander kan sit nie
bly ek klou aan die onthou
van geloof
van hoop
en van liefde

ek bid vandag vir geloof
wat sal dit my baat
om te glo in wat my vlees voel
dit wat ek deur my oë sien
wat sal pyn en ellende my toevoeg
sonder geloof met hoop
in hoeveel liefde sal ek
op een plek kan bly staan
as my verstand my verlaat
my hart se klop skielik stop

ek bid vandag vir geloof
om seker te wees van dit wat ek hoop
te weet wat ek nie kan sien nie
dat die grootste hiervan
liefde ongeken en onverken
alle vrees sal oorwin
vandag bid ek
vir geloof

LSK DESEMBER 2013



 belydenis

hoor jy my
pyngedagte
waar woorde vloei sonder ink
proe jy my
bitter nasmaak
uit die beker wat jy drink
voel jy my
koue skouer
wat hoop laat sink
sien jy my
treur-lament
waar lig nooit klink

ek vra jou
edenloos verraai
vergewe my

LSK November 2013





 sou jy my

sou jy my
net maar die waarheid wys
die suiwer verhaal gaan haal
gaan uitdelf
daar onder die roet en stof
uit die diep graf van jou hart

sou jy my
net maar die waarheid vertel
met minder doelbewuste fraserings
en uitgerekte dooie woorde
wat bosserig kamma-rank
en nooit ten volle
bedek

sou jy my
die waarheid soos dit is kon bring
onbeskaamd en sonder bang
jou hart beken
jou trane toelaat om vry te word
om die stryd te wen
teen donker leuen en tyd

dan sou ek
jou kon troos en kon vashou
jou arms
as jy moeg raak
vir jou kon ophou
ek sou kon
saam met jou
die toekoms in
oor ‘n warm kole-brug kon loop
en ons sou kragtig
saam kon bid

maar die waarheid bly versteek
diep onder jou vel
met net simptome wat halfhartig- vaag vertel
en my arms en hande
raak mank
word dan uiteindelik
afgekap

sou jy my
maar net wou vertel
as jy
maar net wou

LSK OKTOBER 2013

No comments:

Post a Comment