LIEZE'S BIOGRAPHY



Lieze Stassen – Biog

Lieze Stassen se lewensreis van myndorp na treindorp en uiteindelik die stad se liggies het begin op 2 Mei 1963 in die Namakwaland – Nababeep – waar sy gebore is. Sy begin haar skoolopleiding (1970) in die Karoo – De Aar – en voltooi haar matriek op Worcester by Worcester Gimnasium.(1981) Musiek was nog altyd die een onafskeidbare deel van haar lewe. Reeds as ses-jarige het sy solo gesing in die kerk tydens ‘n Kersuitvoering. Op ‘n vroeë ouderdom het sy klavieronderrig ontvang en het ook Musiek as vak gehad tot in Matriek met klavier as hoofvak

Direk na matriek skryf sy haar in by Babs Laker se Akademie van Drama Kuns waar sy buitemuurs spraak en drama studeer en begin voltyds werk by LESERSKRING(NASIONALE PERS). Sy ontmoet haar eerste eggenoot. Uit haar huwelik word ‘n dogter en seun gebore – Simone en Alexander.

SIMONE & ALEXANDER - 2002


Alhoewel sy eintlik gedink het sy gaan aktrise word, het Lieze tydens haar studies by die ADK dadelik betrokke geraak by musiekteater.Een van die dramaskool se mees suksesvolle kabarette – AFRIKANERS IS PLESIERIG –onder die spelleiding van GERARD SCHOLTZ was een van die vele produksies waarin sy betrokke was en begin naam maak het vir haarself. Dis ook by die dramaskool waar haar en Ralph Rabie (Johannes Kerkorrel) se paaie gekruis het en ‘n hegte vriendskap ontstaan het.Hulle het ook albei vir NASIONALE PERS gewerk, Ralph as joernalis by DIE BURGER se nagkantoor en Lieze as musiekaankoper By LESERSKRING.

LIEZE STASSEN & RALPH RABE 

Voltyds werk, ma speel, buitemuurse studies sowel as die afskop van ‘n sololoopbaan raak egter ‘n handvol en sy besluit om voltyds aan ‘n musiekloopbaan te werk en bedank haar voltydse werk. Gedurende 1989 sneuwel Stassen se huwelik en verhuis sy en haar twee kinders na Johannesburg waar sy fokus op haar musiekloopbaan.Sy doen vele eenvrouvertonings, teaterproduksies, kunstefeeste en werk solo sowel as saam met groot name soos LAURIKA RAUCH en COENIE DE VILLIERS.

Gedurende 1994 roep haar verlange na die Kaap haar terug Kaap toe en beland sy dadelik op die filmstel van WOESTYNBLOM, televisiereeks deur JOHAN VAN JAARSVELD .Hierdie was ‘n groot persoonlike mylpaal vir Lieze en beskou sy dit as haar terugkeer na haar wortels. Die reeks was verfilm in Touwsriver – nog n treindorp waar sy skoolgegaan het - waar haar Pa skoolhoof en burgemeester was en haar ma musiekonderwyseres .Dit is ook tydens die opnames van die klankbaan vir WOESTYNBLOM, geskryf deur NEILL SOLOMON, dat Lieze besef haar hart lê by haar moedertaal.Die klankbaan van WOESTYNBLOM palm ook ‘n SAMA in vir die beste klankbaan vir ‘n televisiereeks.



In 1995 kry sy ‘n borg vir haar debuut album en begin werk aan material. Opnames vir hierdie Cd begin in Januarie 1996 en 1997 wen sy die SAMA toekenning vir die beste kontemporere album , THULA, in Afrikaans.




n Verdere twee mini albums XV MEN/BOKKIE en SKY sien in die opvolgende agtien maan die lig.Gedurende 2000 bou Lieze haar eie klankateljee en begin skryf en werk aan ‘n nuwe album AENGEL wat sy in 2001 opneem en beplan vir vrystelling 2002.Lieze het self die hele produksie van die album behartig en‘n nuwe klank in Suid-Afrikanse musiek begin soek.


        
Hierna het Lieze se pad ‘n dramatiese draai geneem in 2003 toe haar seun, Alexander,toe in matriek, opslag sterf in ‘n motorfietsongeluk. Sy was gebroke en het gesweer sy sou nooit weer sing of aan ‘n musiekinstrument raak nie. Daar was geleenthede daarna toe sy ‘n halfhartige poging aangewend het om weer op te tree op die aanmoediging van familie en vriende, maar dit was rampspoedig. Haar hart was nie in haar werk nie en sy besluit om haar totaal te onttrek van die musiekbedryf en ook van die samelewing.

Vir nog 5 jaar bly sy aan in die Kaap en hou haar besig met ‘n besigheid waarin sy ‘n venootskap gehad het, totdat sy daar ook besluit om finaal die deure toe te maak en weg te gaan uit die Kaap uit. Sy trek sak en pak Pretoria toe en woon by vriende en familie terwyl sy haar voete probeer vind en die ewige vrede gaan soek. Gedurende hierdie swerwersjare het sy ontdek dat sy aanklank vind by kinders en musiekonderrig en het sy begin privaat sang-, kitaar- en klavierlesse gee.

Sy ontmoet haar huidige man, Michael Kruger, en hulle trou in 2010. In 2011 trek hulle na ‘n huis op n perdeplaas en Lieze bevind haar skielik in die wonderwêreld van perde. Dis hier waar sy uiteindelik vrede en berusting vind in die lewe en die dood, haar rouproses tot ‘n einde kom en sy weer haar stem en musiek herontdek. Sy ondergaan ook n geestelike ommekeer en haar nuwe album, MY HART IS JOU GEBED, raak gebore tussen die hemel en die aarde en die genesende teenwoordigheid van perde. Sy vind sodoende ook weer haar geloof in haar God en in Sy onbegryplike genade en liefde.



MY HART IS JOU GEBED is ‘n album gestroop van alle musikale tierlantyntjies of foefies.Dit is ‘n album wat fokus op die stem en die lied – 'the singer and the song'. Stassen het self geskryf , asook nou saamgewerk met jong,opkomende digters en al die toonsettings van hierdie gedigte gedoen. Elke gedig is met groot omsigtigheid gekies vir hierdie album en vertel elkeen so ‘n stukkie van haar eie verhaal.Sy het ook self die hele produksie,verwerkings en instrumentasie hanteer en opgeneem by VIC VAN DER WATT van SOUNDWORX, ook ‘n jarelange vriend.


Lieze woon tans in Pretoria op ‘n plot buite die dorp. Tussen die perde, donkies en plaasdiere werk sy aan vele projekte, o.a opdrag albums in oorleg met digters en uitgewers.

MY HART IS JOU GEBED IS NOU BESKIKBAAR 

No comments:

Post a Comment